Uitgebreide periodieke tabel

’n Uitgebreide periodieke tabel teoretiseer oor chemiese elemente buiten dié wat in die periodieke tabel bekend is en tot by oganesson as stabiel bewys is. Laasgenoemde element voltooi die sewende periode (ry) by atoomgetal (Z) 118.

As verdere elemente met hoër atoomgetalle ontdek word, sal hulle in bykomende periodes geplaas word wat op so ’n manier uitgelê is (nes met die bestaande periodes) dat hulle periodies herhalende neigings in die eienskappe van die betrokke elemente toon. Enige bykomende periodes sal na verwagting meer elemente bevat as die sewende periode, omdat hulle waarskynlik ’n bykomende, sogenaamde "g-blok" sal hê wat minstens 18 elemente sal bevat met gedeeltelik gevulde g-orbitale in elke periode. Glenn T. Seaborg het in 1969 ’n agtste periode met hierdie blok voorgestel.[1][2]

Die eerste element van die g-blok sal waarskynlik die atoomgetal 121 en dus die sistemiese elementnaam unbiunium hê. Geen so ’n element is al sinteties vervaardig of in die natuur opgespoor nie.[3]

Vanweë onsekerhede en verskille in voorspellings van die chemiese en fisiese eienskappe van elemente ná 120, is daar tans geen konsensus oor hul plasing in die uitgebreide periodieke tabel nie.

Elemente in dié streek is waarskynlik hoogs onstabiel wat radioaktiewe verval betref en sal alfaverval of spontane splyting ondergaan met uiters kort halveertye, hoewel gehipotetiseer word dat element 126 binne ’n eiland van stabiliteit val wat teen splyting bestand is, maar nie teen alfaverval nie. Ander eilande van stabiliteit ná die bekende elemente is ook moontlik, insluitende een wat naby element 164 voorspel word, maar die omvang van stabiliserende effekte van geslote kernskille is onseker. Dit is onduidelik hoeveel elemente ná die verwagte eiland van stabiliteit fisies moontlik is, of periode agt voltooi is en of daar ’n periode nege is.

  1. Seaborg, Glenn T. (26 Augustus 1996). "An Early History of LBNL". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 November 2010. Besoek op 25 Mei 2019.
  2. Frazier, K. (1978). "Superheavy Elements". Science News. 113 (15): 236–238. doi:10.2307/3963006. JSTOR 3963006.
  3. Bewerings in April 2008 dat unbibium (element 122) natuurlik voorkom, word wyd as foutief beskou."Heaviest element claim criticised". Rsc.org. 2 Mei 2008. Besoek op 16 Maart 2010.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search